Noordwes beleef erge brandseisoen
Een man is dood en ses mense beseer in wat as een van die ergste brandseisoene in Noordwes bestempel word, sê Agri Noordwes.
Mnr. Cor van Vuuren sê ’n opname word tans gedoen om te bepaal hoeveel grond weens die afgelope twee dae se brande in die slag gebly het. “Ons verwag dat dit derduisende hektare gaan wees.”
Hy sê ’n man is gister dood nadat ’n veldbrand hom in die distrik Lichtenburg oorval het. Vyf mense is in ’n brand in die Schweizer-Reneke-omgewing beseer. Nóg ’n man in die distrik Zeerust het ernstige brandwonde opgedoen.
Van Vuuren sê ’n swart boer wat hom onlangs by Agri Noordwes aangesluit het, is baie moedeloos nadat hy sowat 100 beeste in een van die brande verloor het. ’n Boer van Schweizer-Reneke het sowat 40 beeste verloor.
Moontlike rekordjaar
Die brande wat die provinsie tot dusver vanjaar getref het, is meer en erger as gewoonlik en Van Vuuren sê hulle verwag dat dit moontlik ’n rekordjaar wat skade betref, kan wees.
“Die toestande is tans ons grootste probleem. Die winde is baie sterk. En dié sterk winde het veroorsaak dat twee kragdrade in die distrik Vryburg aan mekaar geraak het, wat vonke veroorsaak het en so die veld laat vlamvat het.”
“Ons kan wel vandag asemskep, want die wind het gedraai en dit is nie so sterk nie. Die ouens bly maar orals op die uitkyk,” vertel Van Vuuren.
Sterk winde in die VS
Intussen sê mnr. Simon Russouw, ’n verteenwoordiger van Working on Fire in die Vrystaat, buitengewoon sterk winde is ook een van hul grootste probleme vanjaar. “Die brande is nie weer so groot soos verlede jaar nie, maar ons baklei teen sterker winde.”
Hy sê hulle het reeds brande naby Bultfontein, Clocolan, Ficksburg, Zastron en Memel bestry en dié brande kon hulle alles blus.
53 000 ha
Mnr. Malcolm Procter, adjunkdirekteur van bos- en veldbrandtoesig by die Vrystaatse departement van landbou, bosbou en visserye, sê tot dusver het 53 000 ha reeds in die slag gebly in dié provinsie.
’n Rekord is verlede jaar in die Vrystaat aangeteken met altesame 400 357 ha wat toe in die slag gebly het.
Volgens berigte is vyf mense ook al in die brande in die provinsie beseer.
Deur ALANI JANEKE, Landbou.com
Comments:
No comments.

